![]() |
|
Die
Kruger-bybel van Reddersburg en Balderhaar
Freddie Ekkel skryf dat hy tans in Kloosterhaar, Holland, besig met navorsing oor die geskiedenis van twee voormalige werkkampe Balderhaar en Kloosterhaar wat bestaan het tydens die Tweede Wereldoorlog. ![]() Werkkamp
Balderhaar.
Na aanleiding van sy ondersoek het 'n inwoner van Kloosterhaar vir hom 'n Bybel gewys wat uit die werkkamp Balderhaar afkomstig was. Voor in die Bybel staan geskryf: J.G.A. Kruger, Kotzes'post, Reddersburg. 1 December 1925 ![]() Die
inskrywing voor in die Bybel.
'n Bybel, wat 'n uitgawe was van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap van London in 1923, behoort dus in 1925 aan 'n Suid-Afrikaanse familie van Reddersburg in die Oranje Vrystaat en verskyn dan weer in die tydperk van 1939-1945 in Holland waar dit aan 'n werkkamp inwoner behoort. Freddie sou graag meer wou weet oor die geskiedenis van die Bybel en hoe dit tydens die oorlogsjare in die werkkamp Balderhaar beland het. Die volgende staan in die Bybel: Naam van echtgenoot: Joseph Gert Adriaan Kruger, geb. 5 Junie 1874. Naam van echtgenote: Elsie Magdalena Isabella Jakoba Kruger, geb. 21 Maart 1884. Gehuwd 20 Oktober 1902. Geboorten:
Freddie noem dat na sy wete geen van die persone in Nederland oorlede is nie en het gewonder of van die familie, of hulle nasate, nog lewe en dalk kan help met inligting oor die geskiedenis van die Bybel. |
Met inligting uit die Bybel
en die Kruger register, is die volgende oor die familie bekend: Joseph Gert Adriaan Kruger se vrou Elsie Magdalena Isabella Jakoba gebore Venter is in 1940 oorlede te Reddersburg en Joseph het haar sterfkennis geteken te Reddersburg. Joseph is moontlik weer op 26 Augustus 1943 getroud met 'n Frederika Maria van der Walt. Joseph en Elsie het vier dogters gehad soos ook in die Bybel genoem is. Al die dogters is in die Gereformeerde kerk Reddersburg gedoop.
Dit wil dus voorkom asof die gesin in die Reddersburg omgewing gewoon het en moontlik woon van hulle nasate nog daar. Die laaste datum in die Bybel is die huwelik van Maria Aletta Kruger met Abraham Carel Bothma Roberts op 14 April 1930. Die afsterwe van Elsie Magdalena Isabella Venter in 1940 is nie in die Bybel aangeteken nie en ook nie die huwelik van hulle derde kind op 27 November 1940 nie. ![]() Nog
'n inskrywing in die Bybel.
|